top of page

God is in beheer

Meer oor Ds. Manus Olivier

Manus Olivier:  ons bron van inspirasie

Vriende,  ek het iets – iemand – op my hart.  Manus Olivier.  Oom Manus.  Dominee Manus. Doktor Manus. Maar eintlik net Mens.  Hierdie man inspireer ons telkemale met  sy preke,  skryfsels en videos oor die lewe, maar meer nog deur maar net mens te wees,  bewus van sy foute en menslikheid.  Nooit vol houdinkies en meerderwaardigheid nie –  net ‘n mens-mens.  So vind hy aanklank by oud en jonk,  ryk en arm,  wit en swart, siek en gesond. En hier is wat nou op my hart is.

Manus is die eerste persoon vir wie vele van ons kontak die oomblik as die lewe ons ‘n skuins klap gee. En omdat hy altyd daar is vir ons,  vergeet ons dat hierdie ook maar net nog iemand is met ‘n vrou,  kinders,  water en ligterekeninge en......mediese onkostes. Manus het sy eie uitdagings net soos ek en jy.  Die lewe is ongelukkig nie goedkoper vir hom net omdat hy ‘n nice mens is nie en die afgelope paar jaar het hy meer uitdagings beleef as wat mens iemand sou wou toewens.  Net  ‘n paar maande gelede het hy ‘n groot rugoperasie ondergaan,  wat ons almal weet, toe onverwagte komplikasies ten gevolge gehad het. Derduisende rande en baie dankbaarheid later,  is  hy nog besig om volkome daarvan te herstel maar voor daardie episode verby is,  vat die Chordomakanker, wat  in 2011 by hom gediagnoseer is, weer vlam.  Chordoma is ‘n rare soort kanker. (As jy meer wil uitvind,  gaan loer gerus na https://www.chordomafoundation.org).

Manus  is dringend op 20 Maart  met nuwe tegnologie in Panorama geopereer.  Nou volg daar 5 weke intensiewe en sensitiewe bestraling wat op  24 April 2018 ‘n aanvang neem.  Die omvattende beplanning daarvoor skop alreeds 11 April af siende die bestralingsarea  baie sensitief en op ‘n uiters gevaarlike plek,  die breinstam,  is.

Ek sidder om eens te begin dink aan die omvang van die mediese koste,  daarom is ons ‘n groepie vriende wat baie waardering het vir die manier waarop Manus sy bediening uitleef en veral vir die mens wat hy is.  Ja,  ons bid vir hom.  Sonder ophou.  Maar ons wil graag meer doen. Op ‘n TASBARE manier.  “Geloof is nie net woorde en lippetaal nie”.

Kan ons almal nie,  elkeen volgens sy of haar eie  behoefte om te help,  of om iets terug te gee aan Manus, bydra om die mediese finansiële las ietwat te verlig nie? Kan ons nie deur fondse in te samel, die gesin  help met die kostes nie? Ek glo tog dat daar vele van ons is wat diep in ons hart graag wil bydra maar huiwer om so iets te doen omdat ‘n mens mos bang is jy gee aanstoot of omdat jy dink jou beskeie bydrae kan nie regtig ‘n verskil maak nie.  Ek is wel oortuig dat elke bydrae,  ongeag hoe klein of hoe groot, SAL ‘n wesenlike verskil maak.

 

Sou  jy voel jy wil die saak ook op so ń wyse ondersteun,  wil ons jou die geleentheid bied.  Daarom verstrek ons graag die volgende bankbesonderhede:

Naam:  Plus 1

Standardbank Swakopmund

Rek no.  143306316  Takkode 087373

 

‘n Paar brokkies oor Manus Olivier

Waar het Manus se kankerreis begin? In 2011. ‘n Chordoom is by sy breinstam gediagnoseer.  Dit is ‘n beengewas wat in die sinusholte begin groei en  dan brein toe kan gaan. Die eerste een was 5  x 4 cm groot, waarvan die grootste deel uitgehaal is. Die onlangse chordoom was ongeveer 3x3cm groot. Soos die vorige, was dit teen die breinstam, wat dit basies onmoontlik maak om in sy totaliteit te verwyder aangesien dit  teen die are wat brein toe gaan,  is.  Daar  is  ‘n klomp senuwees en die laaste gewas het reg teen die oogsenuwee gedruk, daarom het dit sy sig heeltemal belemmer. Die gewas is m.b.v. nuwe, gevorderde tegnologie wat van ‘n GPS-sisteem gebruik maak,  verwyder, hoewel die dokters  nie kan waarborg dat hulle wel die hele gewas verwyder het nie. Die chordoomoperasie was weer eens geweldig spanningsvol vir Manus se gesin en natuurlik vir almal wat hom liefhet of bloot ken want in sy eie woorde: “As die dokter die breinare raaksny,  is dit tickets met jou!”

Verlede jaar het Manus letterlik binne een dag van regop na 90 grade geboe, verander. Hy was in geweldige pyn en het al sittende die erediens gelei en babas gedoop,  wat opsigself ‘n emosionele ervaring vir almal teenwoordig, was. Hy is daarna vir ‘n week in Swakopmund gehospitaliseer om die pyn te probeer beheer,  siende ‘n  diskus gebreek en die aan weerskante daarvan in net so ‘n swak toestand was.  Hy is toe inderhaas Suid-Afrika toe.  Daar het hy ‘n groot operasie ondergaan waartydens vier nuwe diskusse ingeplant is. Die daaropvolgende twee maande moes hy daar  bly vir herstel, opvolgbesoeke en terapie.

Wie is Manus Olivier en watter grond het hom gevoed? Dit kom sekerlik  nie as ‘n verrassing dat net die plat, pragtige, beskeie en dankbare Vrystaat hierdie ewe beskeie en dankbare man grootgemaak het nie. Gebore  in  Welkom,  matrikuleer in Boemfontein en daarna Kovsies toe. Het ook  later jare sy doktorale proefskrif oor Kleingroepbediening gedoen,  vandaar die Dr titel. Manus is getroud met die klein en fyn Teresa,  maatskaplike werkster by die CMR.  Hulle het twee  pragtige, slim en musikale dogters,  Maresa en Charisme,  beide oud-Kovsies.  Maresa is getroud en het n jaaroud seuntjie wat sy oupa se groot inspirasie  om elke stap van sy kankerreis vol moed aan te pak, is. Die egpaar het ook nog twee jonger dogters aangeneem,  wat hulle met net soveel liefde,  deernis en toewyding as hul eie,  grootmaak.

Benewens sy passie vir die Koninkryk van God,  het Manus  ‘n groot liefde en waardering vir mense, kinders (en ja,  die twee woorde het nie dieselfde betekenis nie – kinders is net spesiaal-anders!) die natuur, lekker  koffie  en houtwerk.

Hy skroom nie om langs ‘n boemelaar op die grond te gaan sit en gesels nie. Manus is nooit te goed of te belangrik vir enigiets of iemand nie en dit is juis wat hom so toeganklik maak. Voor kerk Sondae bid hy saam met die karwagte,  in die portaal hardloop die klein kinderties om hom te gaan druk en stroom – dikwels kaalvoet -  om voor in die kerk rondom Oom Manus te gaan sit waar hy gereeld eers ‘n pragtige,  kinderlik-eenvoudige boodskappie met hulle deel.  Daar gaan nie ‘n erediens verby waartydens daar nie een of ander kwinkslag,  dikwels ten koste van die Bulle of Stormers, geuiter word nie,  tot so ‘n mate dat kerkgangers wag daarvoor.

Hierdie lang,  bleskopman,  wat baie lekker met homself kan spot,  het in sy 50-plus jare al baie diep spore in ‘n groot verskeidenheid mense se harte getrap. Hy gee nie om om homself ongewild te maak net om in te pas of populer te wees nie.  Om hom op te som? “What you see, is what you get!” Van hoeveel mense kan ons dit vandag opreg se?

Ronel Louw

0812941341

Terugvoering van Manus Olivier - 13.05.18

Moet ek hier uitklim of nie…

My vriend,

Ek stuur nou die dag terwyl ek vir my eerste bestraling gaan vir ‘n paar mense ‘n foto van die Cancer Care Bestralings -en chemo eenheid en sê:

“Ek weet nie of ek hier moet uitklim nie…”

Natuurlik kry ek baie goeie reaksie, maar dié een wat my altyd sal bybly is:

“Manus jy kan nie daar bly sit nie, die Here het klaar uitgeklim...”

Dit laat mens nogal dink nè?

Daar is sekere dinge wat mens in die lewe wil laat bly sit.  Permanent wil laat sit.  So wil ek nou sit en lê en wag dat al die dinge verbygaan, maar my mens, wat dan?

Dan is dit nie al die uitdagings wat verbygaan nie, dis jou lewe wat by jou verbygaan terwyl jy sit, lê of niks doen.

Wat is die antwoord dan?

Die antwoord is seker om uit te klim Manus en dit wat jy vrees, onseker van is, bang is voor, nie wil doen nie, maar dit wat jy weet jy moet doen in die oë te kyk.  Hierdie een kan jy nie uitstel na môre, volgende week, maand of jaar nie.  Jy moet vandag uitklim.  Jou afspraak is elf uur en hier loop alles soos die horlosie, want dis ‘n duur masjien.  Jy kan hom nie dan gebruik en dan nie.

Jy was dalk nog nie hier waar ek nou is nie, maar ek glo jy kan jou indink hoe dit moet voel, want jy was al ook op plekke in jou lewe waar jy gevoel het, hier gaan ek nie “uitklim” nie.  EK gaan net bly sit.

Dit laat my onwillekeurig dink aan ons voorbeeld, Jesus.  

“Toe die tyd naderkom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin.”  Luk 9:51

Hy het nie in Sy Polo bly sit en nie die Cancer Care Bestralings uitdaging aanvaar nie.  Hy het nie in Sy huis weggekruip en wou niks van die buitewêreld weet nie.  Hy het nie op ‘n hoop gaan sit, en toegelaat dat Gods water oor Gods akker loop nie.

Hy het Sy reis na Sy “bestraling” doelbewus en vasbeslote aangepak.

Nou hoekom bly ek en jy dan sit?

Ek wonder ook.

Vriend Manus

Dink Saam

Lees Luk 9:51 oor en oor.  Raak daarmee stil!  Laaaank stil?

Wat hoor jy?

Wat sê die Here vir jou vandag?

Wat maak ons daarmee?

bottom of page