top of page

RAAK BETROKKE

Meer oor die Elandri Trust

Met haar eie dogtertjie het Huipie van Wyk al ver oor landsgrense heen gereis om die lewe vir die driejarige serebraal-gestremde mensie gemakliker te probeer maak.


Haar sorgsaamheid eindig egter nie by haar eie kind nie, maar strek tans tot diep in die informele nedersettings rondom die stad waar die Early Intervention Community Support Group hulp aan kinders in soortgelyke situasies en hul families verleen. Van Wyk het onlangs die El-Andri Trust geregistreer, wat fondse vir hierdie doel insamel.
Die verandering wat hierdie ingryping in die kinders se lewens teweegbring, is verstommend. Ouers wat dikwels ongeletterd is en nie verstaan wat met hul kinders verkeerd geloop het nie, is soms geneig om dié kinders te verwaarloos, aangesien hulle die gestremdheid as die “werking van ’n bose gees” of iets dergeliks bonatuurlik sien.
Boonop het hulle selde mediese fondse of die vermoë om die kinders van kleins af die nodige fisioterapie en medikasie te gee om te keer dat hul spiere styf en onbruikbaar raak. Dit maak dat hierdie kinders, wat dikwels reeds tot ’n mate misvormd is, verdere onnodige pyn en ongemak ervaar.


“Hoewel ons weet dat ’n serebraal-gestremde kind noodwendig ’n korter lewensverwagting het en moontlik nie volwassenheid sal bereik nie, is dit nie nodig dat hulle só ly nie,” sê Van Wyk. “Met vroegtydige ingryping kan hul lyding heelwat verlig word sodat hulle tog ’n beter lewenskwaliteit kan geniet.”
Een so ’n voorbeeld is Lissel Xoagus, oor wie Windhoek Express reeds verlede jaar geskryf het. ’n Jaar gelede het die groep van hom kennis geneem en het die agtjarige seun minder as 8 kg geweeg en was hy in ’n bondeltjie inmekaargetrek. Hy is toe deur sy ouma versorg, maar dié is intussen oorlede en hy is nou in pleegsorg. Danksy die El-Andri Trust kon hy destyds hospitaalbehandeling en fisioterapie kry. ’n Jaar later weeg hy reeds 13 kg en gaan dit onder omstandighede baie goed met hom.


Fidelis is 11 jaar oud en is met ’n sogenaamde waterkoppie gebore. Hy was onlangs in die nuus toe ’n kobra hom gepik en die wond septies geraak het. ’n Verslaggewer het sy situasie onder Van Wyk se aandag gebring en na haar ingryping het ’n fisioterapeut in private praktyk aangebied om hom een keer per week te behandel.


Die trust probeer tans ook om Ilonga (13) wat ernstig gestremd is, te help. Haar ma het onlangs haar werk verloor en hulle voer tans ’n stryd om minstens haar mediese fonds te behou. Ilonga het baie pyn en met haar heup wat letterlik onder haar arm sit weens die sametrekking van haar spiere, het sy hulp nodig om asem te haal.
Die El-Andri Trust samel geld in deur middel van ’n unieke projek: Vroue van oor die hele Namibië, en selfs in Suid-Afrika en Amerika, hekel skoenlappers wat uiteindelik teen N$5 stuk verkoop sal word om op 5 Oktober elke jaar (dié dag word internasionaal aan bewusmaking van serebrale gestremdheid gewy) te dra.
Die skoenlapper is as embleem gekies omdat serebraal-gestremdes herinner aan ’n skoenlapper wat in sy kokon vasgevang bly en nie tot volle wasdom kan kom nie.


Van Wyk doen ’n beroep op die publiek om hierdie projek en die trust te ondersteun, aangesien daar ’n werklike behoefte aan hulp vir hierdie en ander kinders is. Mense wat skoenlappers wil hekel, kan die patroon op Early Intervention Community Support se Facebook-bladsy kry en enigiemand wat ’n bydrae wil lewer, kan ook vir Gillian Mouton by 081 324 8185 skakel.



 

bottom of page