top of page
Untitled-14g.jpg

God weet wat nodig is

Meer oor Nehemiah

Dapper vegtertjie benodig bystand

‘n Spesiale aand word aangebied vir ‘n seuntjie met ’n hartkwaal.


Nehemia Antoncich is ’n ware klein vegtertjie in elke sin van die woord. Hy het Downsindroom, ’n hartafwyking en ook swak longe.

Om hom te ondersteun, vind ‘n fondsinsamelingsgeleentheid op 29 Februarie in Walvisbaai plaas. Die doel is om broodnodige geld Nehemia se mediese uitgawes in te samel. Behalwe vir ’n opvolgbesoek aan spesialiste in Kaapstad, het sy ouers ook ondersteuning nodig om vir sy medikasie te betaal.

Nehemia het ‘n onaktiewe skildklier en sal vir die res van sy lewe van medisyne afhanklik wees. Hy het verlede jaar sy eerste groot hartoperasie ondergaan.

Volgens Nehemia se aanneemma, me. Bonita Antoncich, is “Hemie”, soos sy hom noem, met Downsindroom gediagnoseer toe hy ’n jaar oud was.

“Ons het dit vermoed. Jy kon letterlik sien hoe sy hart in sy borsie klop. Hemie het vir die eerste keer ernstig siek geword toe hy ’n jaar oud was. Dit was toe dat ons die amptelike diagnose by ’n plaaslike dokter kry. Die volgende stap was om te kyk wat vir sy hart gedoen kon word. ”

’n Kardioloog in Windhoek het aanvanklik gesê niks kon vir Nehemia gedoen word nie, aangesien sy longe nie volledig ontwikkel het nie.

“Dit was vir ons ’n harde slag en ons het dus besluit om ’n tweede opinie te kry. Ons is verlede jaar Kaapstad toe om só te maak. Ons doel was om net uit te vind wat die spesialis sê, maar het toe daar gebly sodat hulle kon opereer,” vertel Antoncich.

Nehemia se amptelike diagnose is dat hy ’n atrio-ventrikulêre septale defek het. Hierdie toestand kom voor wanneer daar ’n gat tussen die kamers van die hart is en probleme ondervind word met die kleppe wat die bloedvloei in die hart reguleer. Voorts is hy met gevorderde vaskulêre longsiekte gediagnoseer. Hierdie toestand tas die bloedvate aan wat na of van die longe lei.

“Hemie was amper twee weke lank op lewensondersteuningsmasjiene. Die Maandag van die tweede week het die dokters ons dokumente laat teken om die masjiene af te skakel, sou dit nodig wees. Ons het nie geweet wat om te doen nie en het nooit die dokumente geteken nie. Genadiglik het hy teen Woensdag regop in sy hospitaalbed gesit en was hy ‘n bietjie beter. ”

Ná die hartoperasie, wat ongeveer vyf uur geduur het, is Hemie weer op lewensondersteuningsmasjiene geplaas.

“Dit was hartverskeurend om hom te sien met al die pype wat aan hom gekoppel was. Gebed het ons gedra en doen nog steeds. Hy het in ons lewens gekom soos ’n vars briesie. Ons weet egter nie wat die toekoms vir Hemie inhou nie.”

Die insameling word in die Narraville-gemeenskapsaal gehou en die spesiale gas vir die aand is die Namibies-gebore Suid-Afrikaanse aktrise Zenobia Kloppers wat die rol van Fiela Komoetie vertolk in die rolprent Fiela se Kind. Sy is ook Siya se ma in die gewilde reeks Suidooster.

Daar sal sangitems wees en insiggewende praatjies oor Downsindroom. Ouers van kinders met Downsindroom sal ook hul ervarings deel. Verskeie pryse is op die spel, soos ’n katamaranvaart, ’n haarsalonbehandeling en ’n fotosessie.

Kaartjies kos N$200 en is beskikbaar by Antoncich. Sy kan gekontak word by 081 229 2279.

indexdefd.jpg
bottom of page